SMS wat vra dat Christene vir 2 bid, kan sendelinge se dood beteken
Berig in Beeld: Sep 09 2008 09:52:42:373PM - (SA) deur Neels Jackson njackson@beeld.com
Christene met goeie bedoelings en slegte oordeel is besig om hul eie sendelinge se lewens met hul ondeurdagte optrede in gevaar te stel.
’n SMS het gister baie wyd die ronde gedoen oor twee sendelinge van die NG gemeente Moreletapark wat in ’n Moslemland in ’n tronk sou sit en wat dalk die doodstraf sou kon kry.
Die SMS vra dat mense moet bid “vir bonatuurlike ingrype van ons hemelse Vader”.
Me. Diana Rabie, woordvoerder van die gemeente, het by navraag gesê dit is vals en die twee sendelinge is op die oomblik veilig met vakansie in Suid-Afrika.
Mnr. Charl de Beer, sendingbestuurder van die gemeente, het later ’n e-posboodskap uitgestuur om te vra dat mense nie die boodskap verder aanstuur nie.
Die inligting daarin is vals en berus blykbaar daarop dat iemand ’n boodskap tydens Sondag se erediens verkeerd verstaan het.
Daar is blykbaar wel gelowiges in die tronk in die betrokke land, maar hulle is burgers van daardie land.
Die ironie is dat talle goedgelowige Christene wat die SMS gekry het, dit verder aangestuur het sonder om seker te maak dis waar.
In die proses is die twee sendelinge se voorname en die land waar hulle werk, die wêreld ingestuur.
Met dié inligting kon ’n mens gister binne ’n ommesientjie ook hul van en foto’s van hulle op die internet opspoor.
Vir sendelinge soos dié wat in geslote lande werk, kan dit lewensgevaarlik wees as sulke inligting in die hande van die betrokke land se regering val.
No comments:
Post a Comment